Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG 10 OKTOBER 2010

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word, en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTELS

Dit is met leedwese dat bekend gemaak moet word dat die sleutels van twee radioamateurs die afgelope tyd stil geraak het. Hulle is:
Hill Mason, ZS5HL, op Sondag 3 Oktober na ’n ernstige siekte van nege weke. Hy word oorleef deur sy XJD Iona.
Die tweede is Nick van Zyl, ZS6BOM, in die ouderdom van 78 jaar op Dinsdag 5 Oktober na ’n lyding van ’n aantal maande aan kanker. Hy word oorleef deur sy XJD, Tina en ’n seun.

Ons innige meegevoel aan hulle familie en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

IARU ADMINISTRATIEWE RAAD HERSIEN SY STRATEGIE VIR DIE WÊRELD-RADIOKOMMUNIKASIE-KONFERENSIE-12

SARL-BOUSTELLE SPOEDIG BESKIKBAAR

PRESIDENTSNET VOLGENDE SONDAG OP DIE LUG

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

IARU ADMINISTRATIEWE RAAD HERSIEN SY STRATEGIE VIR DIE WÊRELD-RADIOKOMMUNIKASIE-KONFERENSIE-12

In die lig van ontwikkelings sedert die 2009 Administratiewe Raadsvergadering, het die Raad die Internasionale Amateurradio-Unie (IARU) se sienings oor die toepaslike agenda-items vir die 2012 Wêreldkommunikasiekonferensie (WKK-12) en ook ander agenda-items vir toekomstige WKK’s, hersien en opgedateer.

Die Administratiewe Raad het die vordering van die plan van aksie vir die ontwikkeling van steun vir amateurradio frekwensietoekennings hersien en die plan is opgedateer vir die tydperk tot WKK-12. Die Administratiewe Raad van die IARU het sy jaarvergadering op 1 en 2 Oktober in Salinitas, El Salvador gehou.

Die Administratiewe Raad is verantwoordelik vir die beleid en bestuur van die IARU en bestaan uit drie IARU internasionale beamptes en twee verteenwoordigers van elk van die drie IARU streeksorganisasies. Die Suid-Afrikaanse Radioliga se President, Dennis Green, het dit bygewoon in sy hoedanigheid as IARU Streek 1 Sekretaris. Die Administratiewe Raad het ook toekomstige vergaderings van die Internasionale Telekommunikasie-unie en ander vergaderings waar IARU-verteenwoordiging benodig gaan word, asook WKK-12, geïdentifiseer.

Die Administratiewe Raad het ook die werksdokument wat die omvang van die vereistes van Amateurradio en Amateur Satellietdienste opgedateer. Hulle het ook die noodsaaklikheid vir ’n nuwe strategie met die oog op die behoud van toegang tot bande bokant 148 MHz geïdentifiseer en het ooreengekom dat ’n komitee van kundiges saamgestel sal word om voorstelle vir die Administratiewe Raad te ontwikkel.

Die volledige verslag van die Administratiewe Raadsvergadering sal Maandagoggend op www.sarl.org.za beskikbaar wees.

SARL-BOUSTELLE SPOEDIG BESKIKBAAR

’n Tekort aan die beskikbaarheid van verskeie kritiese onderdele is een van die hoofredes vir die vertraging in die beskikbaarstelling van die SARL se boustelle. Aangesien van die onderdele vir maklike herkenning deur die bouer individueel deur die voorsiener verpak moet word. Hierdie proses neem ’n aansienlike tyd in beslag. Dit word nou verwag dat dat die eerste boustelle vroeg in Desember vir versending gereed sal wees. Sodra voorrade ontvang is, sal die voorafbetaalde bestellings eerste uitgevoer word. Nadat dit afgehandel is, sal ’n aankondiging gemaak en ook nuwe bestellings aanvaar word. Die SARL bied verskoning aan vir die vertragings.

PRESIDENTSNET VOLGENDE SONDAG OP DIE LUG

Die SARL se Presidentsnet is volgende Sondag om 19:30 op die lug. Dennis Green sal terugrapporteer oor die vergadering van die IARU se Administratiewe Raad en die voorgestelde radioregulasies, wat op die SARL se webwerf beskikbaar is, bespreek.

Te oordeel volgens die kommentaar wat deur die SARL ontvang is, blyk dit asof baie mense nie die proses wat gevolg word om regulasies te ontwikkel en te implementeer, verstaan nie. OKOSA volg ’n proses van raadpleging. Dit begin met die ontwikkeling van regulasies deur ’n komitee van OKOSA. Nadat die eerste konsep voltooi is, word dit deur OKOSA se wetlike afdeling nagegaan en nadat die wettigingsproses uitgesorteer is, word die konsep aan die OKOSA-Raad voorgelê. Na goedkeuring deur die OKOSA-Raad word die konsepregulasies in die Staatskoerant vir kommentaar gepubliseer. Dit is die stadium waarin dit tans verkeer. Dit is nou die geleentheid om kommentaar te lewer en besware aan te teken op en teen enigiets in die konsepregulasies.

Aangesien van die voorgestelde regulasies die vereistes van lisensies verander, het die SARL baie vrae ontvang. Wat gebeur met die huidige ZU-lisensiehouers wanneer hulle ouer as 25 jaar word? Die SARL kan nie hierdie vraag beantwoord nie en sal die aangeleentheid te berde bring in die voorlegging aan OKOSA tydens die volgende vergadering met hulle.

’n Ander onduidelikheid gaan oor die opgradering van ’n ZR-lisensiehouer na ZS en die toegang tot hoër krag. Tans is daar ’n marginale verskil tussen die gewettigde krag vir ’n ZR-lisensiehouer, 20 dBW en ’n ZS-lisensiehouer, 26 dBW. Die grootste verskil is egter die toegang tot die volle spektrum vir amateurradio. Indien daar enige kwessie is, is dit in die gebied van bedryfsprosedure; ’n aangeleentheid wat lank bespreek is ten opsigte van beide ZR- en ZS-lisensiehouers. Instrukteurs moet moontlik meer tyd aan bedryfsprosedures bestee en moontlik moet HF-assessering opgeskerp word. Al hierdie aangeleenthede sal volgende Sondagaand bespreek word.

Indien u klub die plaaslike herhaler aan die netwerk wil koppel, rig asb. ’n versoek aan armi@sarl.org.za teen Maandagmiddag met insluiting van die telefoonnommer wat gekoppel moet word sowel as die herhalerfrekwensie en dekkingsgebied.

Indien u nie tydens die Presidentsnet aan die besprekings kan deelneem nie, word u uitgenooi om u sienswyse en besorgdhede aan armi@sarl.org.za te stuur. AStel aangeleenthede asb. as algemeen en nie as persoonlik nie.

OKTOBER RAE SE KANDIDAATNOMMERS GEPUBLISEER

Die SARL kondig graag aan dat eksamennommers van kandidate vir die Oktober se RAE op die webwerf gepubliseer is.

’n Totaal van 122 kandidate het vir die eksamen ingeskryf.

Om u eksamennommer vanaf die webwerf te verkry, volg die koppelings op die SARL se webblad na die RAE en klik dan op die koppeling na “Candidate Examination Numbers”.

Enige navrae moet aan die kantoor van die SARL gerig word.

KOMPETISIEUITSLAE

SARL 80 m Klubkompetisie.
Die komitee het 5 logstate ontvang vir die 80 m digitale kompetisie wat op 29 September gehou is.

1ste Wesrand ARK, 31 punte
2de Kaapstad ARS, 7 punte

Die uitslae vir die afgelope 5 kompetisies is:

1ste Wesrand ARK, 331 punte
2de ZS-Kompetsiegroep, 186 punte
3de Antieke Draadloosvereniging, 154 punte

SARL HF, GG-kompetisie. Die uitslae sal volgende week bekend gemaak word nadat Dennis, ZS4BS, in Suid-Afrika terug is.

Die laaste Klubkompetisie is die GG kompetisie op Woensdag 24 November 2010.

CQ Hou Koers, die Voortrekkers se radiokommunikasiedag vind op Saterdag 16 Oktober vanaf 08:30 tot 12:00 SAT plaas. Kom gesels gerus saam en gee die jong klomp 'n paar kontakte. Die roepfrekwensie sal 7,070 MHz wees, Echolink via ZS0JLP-R en IRLP 8719.

HF-VOORTPLANTINGS VOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds laag is. Daar is tans geen sonvlekke nie maar die prentjie sal hopelik binnekort verbeter. Ou sonvlek 1 106 behoort binnekort weer in die aarde se sigveld te roteer. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling vir die week gaan minder as 20 wees.

20 m is die beste keuse vir DX gevolg deur 15 en 10 m. Smiddae en tot na die son gesak het gaan die toestande na Indië goed wees. Smiddae gaan toestande eers op 10 m en dan later op 15 en 20 m na Europa toe goed wees. Kontakte met Australië en Nieu-Seeland is met sonsopkoms op 20 m moontlik en ook op 40 m nadat die son gesak het. Kontakte met die VSA is uiteindelik weer op 15 m gedurende die vroëe aand moontlik. 15 m-openinge na Brasilië en Suid-Amerika is smiddae moontlik. Met die goeie 15 en 20 m-openinge gaan 17 m vol verrassings wees.

30 m kan vir die digitale en gelykgolfentoesiaste baie lonend wees met openings na verskeie dele van die wêreld.

Plaaslik is 40 m die beste keuse met 20 en 30 m wat goeie kontakte oor die langer afstande kan oplewer. Vroegoggend en laatmiddag is 80 m die beste keuse, veral oor die korter afstande.

Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

10 – Oktober – Antieke draadloosvereniging se AM/ESB-lampstel QSO-party;
10 Oktober – Laaste dag vir insending van kommentaar op konsep radioregulasies aan armi@sarl.org.za;
15 Oktober - Sluitingsdatum vir die indiening van foto's van "Neem-u-handstel-werk-toe";
16 Oktober – CQ Hou Koers;
17 Oktober – Presidentsnet om 19:30 re konsep-radioregulasies.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program "Amateur Radio Mirror International" wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n "podcast"-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 22:05 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin wat deur George, ZS6NE, saamgestel is.
Dankie dat u saamgeluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003